Ueckermanstraat – Stop 3

0
15
Fotos is ‘n 118 jaar uitmekaar geneem van Ueckemannstraat

Ueckermannstraat vloei uit die huidige sirkel van Blesbokspruit opdraende tot die Ou Tronk. Dit loop parallel met Voortrekkerstraat aan weerskante van die ou mark- en kerkplein. Die plein het die plasing van geboue bepaal, asook die skaal en verhouding van geboue tot mekaar en geboue tot straat. In Ueckermannstraat was dit hoofsaaklik dubbelverdieping en direk op die sypaadjie en merendeels gesien as die handelsentrum. Vandaar die foto hiernaas met die statige geboue steeds te sien eeue later.

In die Kloof Kerkhof lui ‘n grafskrif: “Sacred to the memory of Heinrich Julius Frederick Ueckermann, born in Meclenburg – Germany, 20 July 1827, died 24 July 1883. Erected to the loving memory of the founder of Heidelberg by his sons.” So pryk sy borsbeeld steeds tereg by die ingang van ons ou Stadshuis. Heidelberg het getrou gebly aan die erfenis van die vaders en het ons vandag ‘n nalatenskap waaroor ons hom met reg dankbaar kan wees.

Ueckermann het gewoonlik wapadlangs oor die Blesbokspruit van Pietermaritzburg noorde toe en terug gereis. Hier op plaas Langlaagte wat uiteindelik Heidelberg sou word, het hy opgemerk dat die groot transportpaaie van die suide na noorde en ook van weste na die ooste mekaar kruis. As entrepeneur en boumeester wou hy hier ‘n handelspos vestig.

Hy het die plaaseienaars, waarna Strydom- en Venterstraat vernoem is, in 1859 oortuig om ‘n stuk grond aan hom te verkoop waarop hy ‘n woonhuis en winkel opgerig het. Dit was geleë op die hoek van Ueckermannstraat oorkant die Klipkerk en het hy die eienaars oortuig om in 1860 aansoek te doen om ‘n dorp daar te vestig, met hom as hul agent. Hierdie eerste aansoek na die Volksraad het misluk omrede erwe nog nie formeel uitgemeet was nie.

In 1865 het ‘n Ier, T W Fannin, ‘n landmeter uit Natal, hierlangs gereis. Hy het malaria
opgedoen in die Noorde. Ueckermann het hom versorg en huisvesting gegee in ruil vir opmeting van die dorp. Hy het egter weer ‘n malaria-aanval gehad en is op 19 Desember 1865 hier oorlede, en is die eerste persoon wat in die Kloof Kerkhof begrawe is.

Na die ontwikkeling van die kerkplein in 1865 is aansoek vir ‘n dorp opnuut gemaak, waarna Heidelberg amptelik op 28 Maart 1866 geproklameer is. Die topografie daarvan het Ueckermann aan sy Alma Mater, Heidelberg in Duitsland, laat herinner en vandaar die naam.

Hyself sou Heidelberg in die Volksraad verteenwoordig en was lid van die Uitvoerende Raad. Op 6 Maart 1878 het Carl Frederick Ueckermann landdros F K Mare vervang nadat laasgenoemde geweier het om onder die Britte tydens die Britse anneksasie te dien. Carl Ueckermann Jnr het eiendomme in Heidelberg in die 1890’s as transport-uitmaker getransporteer. Alfred Ueckermann (19) was deel van die
Heidelberg kommando se gesneuweldes wat in die helde akker in Kloof begraafplaas herbegrawe is op 17 Oktober 1903.

Ueckermann se visie om Heidelberg as onderwysinrigting te maak het later in die Onderwyskollege (1906 – 1967) gerealiseer. Verder vertel Heidelberg die geskiedenis van SA se stryd na onafhanklikheid soos geen ander dorp. Dit is ‘n geopende boek vir almal wat dit wil verken en het begin by die stryd om eers ons dorp gevestig te kry.

Ds Lion Cachet het in sy boek “De worstelstrijd” hom later as volg oor Heidelberg uitgelaat: “… die van die Zuid westelijke grens naar het hart de land voeren, beskrijft, is het dorp voor de Republiek van onschatbare strategiese waarde. Hoe goed de Boeren dit hebben ingezien, blijkt onder andere uit het feit, dat zij in den jongsten worstelstrijd hun hoofkwartier en den zetel der Regeering te Heidelberg vestigden.” Van handelspos tot hoofstad aan Ueckermann die eer.
Bladsy

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here