Ons Erfenis – Stop 1 Die ou Heidelberg stasie

Geskryf deur Bouwer Wiersma Prokureurs

0
173

Die naaste wat Heidelberg aan ‘n kunswerk soos die Mona Lisa sal kom, is hierdie imposante ou stasiegebou wat na alle waarskynlikheid deur NZASM (“Nederlandsche Zuid Afrikaanse Spoorweg Maatschappij”) se argitek V von Lissa ontwerp is.  Die hoeksteen is deur hul seksie-ingenieur, Mnr H Westenburg, op 24 September 1894 gelê.  Dit is gebou in die Eklektiese ZA Wilhelmiens boustyl in sandsteenblokke met kenmerkende trap- en klokgewels.  Die prag daarvan laat ons byna vergeet dat dit ons eerste stop op die Heidelberg “struggle” roete is.

Die ligging was die eerste stryd.  Daar was meningsverskille waar dit gebou moes word, binne of buite die dorp.  Die uiteindelike ligging moes aanpassing van spoorlyn ontwerp meebring wat ‘n wye Kaapse draai deur Heidelberg sou teweegbring.  Groter belastingsvoordele vir stadsvaders en ‘n langer trajek wat die ou Wet van Transvaal behoorlik sou laat geld.  Dit is dan geen wonder dat een van die kontrakteurs, die Schuitmaker Broers, in geldelike verknorsing beland het voordat aflewering gedoen is nie.

President Paul Kruger het dit amptelik geopen op 10 Oktober 1895.  Hierdie spoorlyn moes vrye handel tussen Johannesburg en Durban aanmoedig vir die ZAR (Zuid-Afrikaanche Republiek).  NZASM as konsessie-houer, was ook daarna wetlik verplig om die ZAR regering in die Anglo-Boereoorlog by te staan.  Hulle moes troepe aanry, krygsgevangenes vervoer en moes later selfs hul eie spoorlyne saboteer.  Hulle stryd is beëindig toe die Britte na die oorlog die konsessie summier gekanselleer en hulle werknemers gerepatrieer het.

Op 15 November 1899 is krygsgevangenes van die ontspoorde Britse gepantserde trein by Frere na Pretoria via Heidelberg vervoer.  Hierdie krygsgevangenes is vir die aand na bewering onder in die kelder van hierdie ou stasiegebou aangehou.  ‘n Verslaggewer van die Morning Post, ‘n ene Winston Churchill was een van hulle.  Hy sou later sy eie stryd na vryheid lei deur in Pretoria te ontsnap.  Heelwat later sou hy, as die leier van Groot Brittanje, Genl Jan Smuts wat ook ‘n bekende aan die Heidelberg stasie was, in sy oorlogskabinet tydens die Tweede Wêreld Oorlog opneem.

Ook tydens die Anglo-Boereoorlog het die Indiërs die Britte bygestaan as draagbaar operateurs in veldslae.  ‘n Soortgelyke veldambulans is tans sigbaar by die ou stasie.  Hulle leier sou later hul land se grootste “struggle” ikoon word.  Hyself het die ou Heidelberg stasie meermale besoek in treinritte tussen Durban en Johannesburg.  Die foto hierin is juis in 1910 op die einste stasie geneem waar hy met ‘n ruiker in die hand ontvang is.  Mahatma Ghandi was juis op hierdie treinritte blootgestel aan kleurkode of rassediskriminasie.  Hy het met sy passiewe weerstandsbeweging Indiërs se regte verbeter.  In Julie 1907 het hy sy eerste passiewe weerstandsbeweging gelei waarin hy ook ondersteun was deur ‘n duisend Chinese, onder leiding van Leong Quinn.  Hy was ‘n doring in die vlees van Genl Jan Smuts en was op Ou Heidelberg stasie gearresteer omrede hy nie ‘n geldige permit gehad het nie.  Hy is by die stasiemeester se woning aangehou tot die volgende dag waarna hy sy rit na Pretoria kon hervat.  Mnr Moti, stigter van J Moti en Seuns in 1908, het in sy vegetariese behoeftes voorsien.  Tans word J Moti en Seuns deur ‘n derde generasie Moti in Shalimar bedryf.

Mahatma Ghandi het ook teen die paswette betoog deur saam met sy volgelinge dit in die openbaar te verbrand.  Ratanda se Alinah Mokoena sou ook later swart vroue help organiseer vir ‘n vroue-opmars na die Uniegebou om ook teen paswette te betoog.  Sy lewe hier (1897 – 1914) het hom voorberei om Indië, wat gebuk gegaan het onder die Britse juk, tot onafhanklikheid te lei.

President Paul Kruger daarenteen, was nie so gelukkig.  Sy strewe na vrye handel en onafhanklikheid het in ‘n gewapende stryd geëindig.  Met ‘n oormag moes hy met die hulp van Koningin Wilhemina van Nederland, sy geboorteland verlaat.  Hy kon nie eers sy eie vrou se begrafnis bywoon en het in Clarens, Switserland afgesterf.  Tot aan die einde het hy die onafhanklikheidstryd gestry.  Toe hy gevra was na sy lot, het hy Job in herinnering gebring en enduit sy geloof vir vryheid behou.

Die vrugte van ‘n eie onafhanklike Republiek is in 1961 deur Dr H F Verwoerd gepluk.  Hy het uit die einste Heidelberg kiesafdeling, Premier van Suid Afrika (1958 – 1966) geword.  Hy het ook in 1961 amptelik die nuwe stasiegebou geopen en het die ou stasiegebou in onbruik geraak.  Baie troepe sou later per spoor Heidelberg besoek om verpligte diensplig tydens die “struggle” te ondergaan.

Gedurende die Verwoerd-bewind het die Rivonia verhoor gevolg waar die ANC leierskap tot lewenslange gevangenisskap verdoem was.  Dr Anton Rupert het die Ou Stasie in 1969 begin omskep in ‘n Vervoermuseum.  Dit is op 22 November 1975 amptelik deur premier BJ Vorster as historiese gebou en Vervoermuseum geopen.  Gemelde BJ Vorster was ook vir sy weerstand in 1942 vir twee jaar in Koffiefontein aangehou as gevolg van sy betrokkenheid by regse Ossewa Brandwag Organisasie.  Dit sou hom later motiveer om aanhouding sonder verhoor, in wetgewing te verskans.  Hierdie magshandhawing het ‘n stryd vir baie in die “struggle” era geword.

Die rol wat ou Heidelberg Stasie in die bevrydingsstryd sou speel het daarna ‘n hoogtepunt bereik.  Dìt was op 26 November 1996 met ‘n besoek aan die Ou Stasie deur seker die wêreld se vernaamste “struggle” ikoon van alle tye.   President Nelson Mandela is toe deur Heidelberg met ereburgerskap vereer.  Hy was immers ons eerste ten volle demokraties verkose president.  Die Ou Stasie het hom toe ook met ‘n aandenking vereer.  Hy verpersoonlik die “struggle” na ‘n Nuwe Suid-Afrika en skop ons roete op ‘n hoogtepunt af.

Volgende week beweeg ons af in Voortrekkerstraat.  Maar nou kan die Ou Heidelberg stasie tereg uitroep: Lank lewe die presidente. Lank lewe!