Heidelberg se Helde – Tant Mary (Maraitjie) Krugel

0
117

4 Januarie 1943, word Mary Pretorius op Brakpan gebore.  Haar pa is ’n myner wat sy hele lewe ondergronds gewerk het en haar ma is ’n huisvrou.  Op skool reeds het klein Maraitjie geweet wat sy wou word.  Reeds van Standerd 8 af tydens vakansietyd het sy by die Verre Oos-Rand Hospitaal in Springs gaan werk, want sy was ’n verpleegster in murg en been.

Nadat sy in 1960 Standerd 10 klaargemaak het, het sy begin verpleeg en te wel op Bethal.  Sy het vinnig uitgeblink as ’n staatmaker verpleegster.  In die kraamafdeling waar sy gewerk het, was sy elke keer in die kol met die geslag van ’n nuwe baba!  Sy onthou ook eenkeer toe sy en die portier ’n nuwe verpleegster wat vrek bang was, in die hospitaal se lykshuis toegesluit het.  “Die arme kind was van haar trollie af” lag sy.

Sy kan ook onthou hoe die jong Polisiemanne kom koffie soek het op ’n nagskof.  Dan kon die “nursies” darem die talent besigtig.  Maar dit was eers toe ’n jong saad-inspekteur met die naam Charles Krugel opgeneem word vir longontsteking dat Die Mother Teresa van Bethal haar hart verloor het.

Sy het onraad vermoed toe die bloeddruklesings wat sy geneem het van die jong man, baie hoër was as die lesings wat deur ander verpleegsters geneem was.  En 2 jaar daarna staan sy en Charles Krugel voor die kansel in Bethal.

Nadat hulle in Thabazimbi ‘n draai gemaak het waar Charles vir “Skelm Gert du Preez” (soos Tant Mary hom noem) geboer het en daarna ook in Dunottar vir die Jood gewerk het, kom hulle in 1968 in die Heidelbergdistrik aan.  Charles het grond gehuur en begin mielies plant.  Waar die Carnival City Casino vandag gebou staan, het eens Krugel mielies gestaan.  Hulle het gebly op die kruising van Heidelberg Weg en die ou Johannesburg pad, in die ‘Spookhuis” soos tant Mary daarna verwys.  Daar was glo ’n man wat saans by die seuns op die bed se voetenent gesit het.  Nooit gepla nie, net gesit, kompleet asof hy die kinders oppas.  Dalk iemand uit Tant Mary se hospitaal dae, wie sal weet?

Sy was van kleins af gek oor rugby en kan onthou hoe sy saam met haar pa by die draadloos gesit en luister het na rugbykommentaar.  Sy kan nie die kommentator se naam onthou nie, maar sy onthou hoe goed hy die wedstryd kon beskryf.  Dit was ’n Engelsman wat goed Afrikaans kon praat.

Daar was in ’n stadium by Laer Volkskool te min rugbyafrigters en dis toe wat Mary Krugel hand opsteek en begin rugby afrig.  Haar span was die skool se tweede span.  Sy het ’n kursus in rugby-afrigting gaan doen by die Pam Brink Stadium in Springs en toe sommer ’n kookwater afrigter by Laer Volkskool geword.  Haar span het 3 jaar in ’n ry as Ligawenners uit die stryd getree.

Sy het altyd haar span met hul toks sakke en lemoene op haar Ford vragmotor gelaai en so het hulle die hele streek deurgery en gespeel.  Sy was vir 6 jaar Laer Volkskool se afrigter vir die tweede span.

So speel hulle op ’n slag ‘n belangrike ligawedstryd by Laerskool Dalview in Brakpan.  Die span sukkel in die skrum en sy kan dit nie verstaan nie, want sy het ’n sterk voorry gehad.  Tydens oefening het sy onder die skrum gaan lê en haar woorde was: ”julle bars (’n sagter woord as wat werklik gebruik was) as julle op my val!”

Sy staan toe nader aan Meneer Phillip Otto, Laer Volkskool se hoof en die twee kom agter dat die opponente se skrumskakel die bal onder sy eie hakker se voete ingooi en dat die skeidsregter niks daaromtrent doen nie.  In daardie dae moes ’n skrumskakel die bal reguit in die skrum ingooi, “dis tog die doel van ’n skrum” meen Tant Mary, “nie soos vandag se sussies nie!”

Mary het altyd haar fluitjie by haar en met die volgende skrum stap sy op die veld en blaas die fluitjie. Die Skeidsregter vlieg om maar toe is Mary Krugel reeds op hom. “AF’ het sy geskree.  “Af, jy het nie ’n blêddie clue wat aangaan nie, man!”  Baie verbaas en uit die veld geslaan loop die man van die veld af, ’n nuwe skeidsregter neem die leisels oor en Tant Mary se span wen die wedstryd.

Heidelberg het vir Mary Krugel goed geken met haar swart Ford Granada Gia.  Sy was baie lief vir haar Ford.  “In daardie jare was die spietkop in die dorp ou Piet Speknek du Toit!” sê sy en begin grinnik.  Toe weet ek hier kom die storie van die klap!

Tant Mary het nie ’n veiligheidsgordel gebruik nie, dit het haar laat voel die ding wurg haar.  Elke keer as die Verkeersbeampte, Piet du Toit, haar sien dan skree hy op haar: “Sit aan daai belt!” en dan byt Mary Krugel op haar tande en ry verder, tot daardie een dag…………………………..

Sy het by die Laerskool verbygery in Voortrekkerstraat en toe hoor sy: “sit aan daai donnerse belt!”  Nou of dit die ekstra woord was en of dit net sommer nou genoeg was, kan sy nie onthou nie.  Sy het summier gestop, die Swart Granada se “boot” oopgemaak en is met wielmoer in die hand, in Piet Speknek se rigting.  Dié sien hier kom moeilikheid en spring in sy motor maar voordat hy die venster kon toemaak, blaai Tant Mary hom met die hand dat sy pet daar trek.  Die twee het later vrede gemaak en is tot vandag nog goeie kennisse.

Tant Mary Krugel het verseker haar merk gelaat in Heidelberg.  Soos byvoorbeeld die grond wat sy gereël het  met die konstruksiemaatskappy wat destyds die N3 snelweg gebou het.  Dit is deur haar toedoen dat al die uitgrawings van die snelweg se grond, teen geen kostes, gebruik kon word om die A-veld en hokkievelde van Hoër Volkskool te vestig.

Tant Mary Krugel bly vandag op ’n plaas net buite Balfour.  Sy het ’n paar weke gelede ’n ligte beroerte gehad maar sterk goed aan.  Die SuikerbosRant eer jou Tant Mary, saam met al die mense wat destyds vir jou blomme gestuur het na daardie klap…