Heidelberg Voortrekkers – Hou Koers Voorwaar !

0
134

Die Voortrekkerbeweging hou steeds koers en ja, hulle hou steeds hul doel voor oë, naamlik om as kultuurbeweging vir die moderne Afrikaner, in besonder sy jeug, te bemagtig om as positiewe burgers en konsekwente Christene, suksesvol te wees in hulle roeping tot diens.

As jou kind nie deel is van Heidelberg se Suikerbos Voortrekkerkommando nie, is dit dalk tyd dat jy as ouer ‘n draai gaan maak en besef dat ‘n nie-Voortrekkerkind op oneindig baie uitmis.  Hier leer die jeug kultuur in die natuur, maar op ‘n avontuurlustige manier.  Hulle kry kans om knope te leer maak, vuil te word, berge te klim, staproetes te verken, in branders te roei, deur riviere te swem, in skuilings te slaap wat hulle self gebou het, rigting met behulp van sterre te vind of sommer net laataand om ‘n kampvuur te kuier.

Heidelberg is bevoorreg om oor ‘n sterk Voortrekkerkommando te beskik.  Een van die stigterslede, Dr Willem Sprong, was sy hele skoolloopbaan ‘n Voortrekker.  Hy was destyds ( Graad 1) deel van die Rocco Knobel Kommando in Kimberley.  In Matriek het hy die Presidents Erkenningstoekenning ontvang.

In 2010 het Dr Sprong die Suikerbos Voortrekkerkommando in Heidelberg begin.  Die eerste kamp is in Mei 2011 met 108 kinders en 24 volwassenes gehou.  Van daar het die kommando van krag tot krag gegroei.  Onlangs het Dr Sprong die leisels as Kommandoleier aan Dawie de Villiers oorhandig, maar is steeds by die Voortrekkerkommando betrokke.

Die Afrikaner is plesierig, dit kan julle glo.  Ja, Suikerbos Voortrekkerkommando het hul plesierigheid demonstreer toe 160 kinders en hul offisiere die kwartaal aan die einde van verlede maand met ‘n kleurryke Volkspele afgesluit het.  Wat ‘n seldsame gesig was dit nie om te aanskou nie!  Die gemeenskap is voorwaar bevoorreg.

As jy by die Suikerbos Voortrekkerkommando wil aansluit, skakel Marlize Mulder by 083 704 2699.