Brand Pretorius Motiveer Sakelui van Heidelberg

0
115
Van Links na Regs – Jaco Coetzer (Oud President) Nico van Huyssteen (Oud President) Brand Pretorius Johann Strauss (Ere President) Van Zyl Schultz (President) en Steve Bannister (Oud President)

Daar was groot opwinding met die aanloop van ʼn besoek deur een van Suid-Afrika se groot Sakemanne aan die Heidelberg Sakekamer.  En tereg so, Brand Pretorius, die seun van ʼn onderwyser uit Bultfontein in die Vrystaat, het diep spore getrap in die Raadsale van Toyota en later Die McCarthy Groep.  Inteendeel, hy was verantwoordelik vir die redding van Die McCarthy Groep toe die groep op die rand van insinking gestaan het in 2001.

Van Links na Regs – Jaco Coetzer (Oud President) Nico van Huyssteen (Oud President) Brand Pretorius Johann Strauss (Ere President) Van Zyl Schultz (President) en Steve Bannister (Oud President)

Op 29 Mei 2018 om 20h00 staan die Sake-ikoon voor 85 lede en besoekers van die Sakekamer in Heidelberg.  Hy begin met ʼn kort oorsig oor sy loopbaan, uitdagings en hoogtepunte uit sy wedervaringe by Toyota en McCarthy.  Dit was baie gou duidelik dat Brand Pretorius elke greintjie aandag in die vergadering op hom gehad het.  Die stilte in die saal was hoorbaar soos sakemanne en -vroue uit Heidelberg na hom luister.

Sy boodskap het gehandel oor Leierskap en die verskeidenheid daarvan.  Onder andere Leierskap in jou  werksverhouding en ook in jou huisgesin en jou omgewing.

Daar is verskeie fasette van Leierskap.

Volgens Brand is die belangrikste faset SELF-LEIERSKAP.  Jy moet in jouself glo en jouself kan lei, om ander suksesvol te kan lei.  Jou eie integriteit, selfdissipline en uithouvermoë is deurslaggewend.  Dis hier waar jy ʼn ware Leier sal wees of bloot net ʼn Bestuurder.

En die verskille tussen ʼn Leier en ʼn Bestuurder?  ʼn Bestuurder beplan en koördineer, waar ʼn Leier werklik moet dien en deur sy/haar voorbeeld moet rigting gee.  Deur met respek en liefde vir jou mense te lei, oorbrug jy baie uitdagings en dit kweek ʼn gemotiveerde span wat enige taak met sukses kan aanpak.

Hy sluit af met die waardevolle stelling dat mense sukses sal volg en dat ʼn goeie Leier wat resultate lewer deur sy/haar voorbeeld en deernis, altyd sukses sal behaal en deur staatmakers omring sal wees.

Met die hele gehoor op hulle voete het Brand Pretorius ʼn dawerende applous gekry aan die einde van sy praatjie.  Daar was ook ʼn geleentheid om aan hom vrae te stel en dit het tot ʼn paar interessante gesprekke gelei.  Op ʼn vraag van wat is een van die belangrikste boeke wat jy moet lees, was sy antwoord onomwonde, DIE BYBEL!

Sy boek “AAN DIE STUUR” en ‘n Engelse weergawe,  “IN THE DRIVING SEAT”, was ook te koop en Brand het tot láát elke eksemplaar met ʼn persoonlike boodskap geteken.

Wat baie treffend was, is dat daar een besoeker van Cotswold, Engeland was.  Brand het seker gemaak dat hy die praatjie verstaan.

Die Heidelberg Sakekamer bedank Auto-Ren Toyota Heidelberg wat die aand moontlik gemaak het.  Ons is almal geïnspireer deur ʼn groot gees in die sakewêreld.