Perde help die Kroos by Zoë Skool

0
29

Raadop ouers wie se kinders  geëtiketteer word en wat gesukkel het om in hoofstroom skole aan te pas, het nuwe hoop by Zoë Skool gevind.  Nie net floreer hul kinders by diè vroeë intervensie en remediërende sentrum nie, maar hulle kry die liefdevolle en gespesialiseerde aandag wat hulle verdien.

“Binne die eerste week by Zoë Skool kon ek die verskil in my kind se selfvertroue sien.  Sy was gemaklik in die kleiner klasse en daar was niemand wat haar oordeel nie.  Sy het dadelik aanklank by haar onderwyser en maats gevind,” vertel die ma van die 9-jarige Marenique.

Die dogtertjie het suurstoftekort as baba ondervind en is op 8 maande met Cerebral Palsy (serebrale gestremdheid) en Microcephaly (kleinskedeligheid) gediagnoseer.  Sy het nie haar mylpale op die regte ouderdom bereik nie en haar koppie het nie gegroei nie.

Marenique het in 2013 haar skoolloopbaan by ‘n hoofstroom skool se Graad RR-klas begin.  Sy kon nie by haar maats bybly nie en moes arbeidsterapie kry.  Die volgende jaar is sy na die Graad R-klas waar sy gesukkel het om aan te pas. Sy was nie emosioneel gereed vir Graad 1 nie en haar ouers het besluit om haar terug te hou.

Marenique is in 2017 na Graad 1, maar sy het emosioneel gesukkel.  Die skoolsielkundige het gevind dat sy steeds nie skoolgereed was nie en ‘n fisioterapeut het Zoë Skool aanbeveel.

“Ons sukkel nie meer met huiswerk nie.  Marenique geniet dit nou om self haar huiswerk te doen waar ek dit voorheen alles vir haar moes doen.  Die kinders word geleer om meer onafhanklik te funksioneer en ek voel die skool bied haar die geleentheid om haar lewe so normaal as moontlik uit te leef,” het Marenique se ma vertel.

James is ‘n 12-jarige seuntjie wat op tweejarige ouderdom met outisme gediagnoseer is.  Sy ouers vertel dat die reis lank en moeilik was.  James was van babatyd af nie gesond nie en was vir die eerste paar jaar van sy lewe in en uit die hospitaal.

“‘n Baie lang reis met spesiale diëte, toetse, evaluerings, aanvullings, terapie, homeopate en meer het gevolg.  Na baie hartseer, trane, frustasie en moegheid om alles in my vermoë te doen om my kind ‘reg’ te kry, het ek aanvaarding ontvang.

“Vandag verruil ek my kind en ons pad saam vir niks.  Ek het soveel lewenslesse by hom geleer.  Hy is my sonskyn, liefdevolle seuntjie en sy sêgoed laat my elke dag glimlag en los ‘n warm gevoel in my hart,” het James se ma gesê.

Die seuntjie was in 2014 van die eerste kinders wat by die toè nuutgestigde Zoë Skool begin het.  Van dag een af was James gelukkig by diè skool en sy sosiale vermoë, spraak en selfvertroue het met reuse treë verbeter.

Vir Jaeden (11) se ma was die stigting van Zoë Skool in 2014 soos manna uit die hemel.  Hy is as ‘n vroeggebore baba op 26 weke gebore en het ‘n skrale 610g geweeg.

As kleuter het Jaeden verskeie kleuterskole bygewoon en is as ‘n stadige leerder gebrandmerk.  Onderwysers het aan sy ma gesê dat hy nooit in ‘n hoofstroom skool sou aanpas nie.  Hy is na ‘n spesiale skool in Somerset Wes waar Jaeden floreer het.

Die gesin het egter na Gauteng verhuis en sy ma se soektog na ‘n skool vir haar seuntjie het nie goed afgeloop nie. Hy is by verskeie skole afgekeur voor sy van Zoë Skool gehoor het.

Jaeden was ook een van die skool se eerste ses leerders in 2014 en vandag floreer hy onder die liefde en aandag wat hy hier ontvang. Hy het by Zoë Skool vir die eerste keer leer lees en het vroeër vanjaar sy eerste eksamen afgelê en met welslae geslaag.

“Jaeden is ‘n lewendige bewys dat dit nie saak maak hoe ander mense jou etiketteer nie.  Wanneer die regte mense jou lei en liefdevol ondersteun, kan enige mens as wenner bo uit kom,” het Jaeden se ma afgesluit.