Heidelberg se Held Deel 1 – Oom Piet(Speknek) du Toit

0
131

As jy jou lisensie gekry het in Heidelberg tussen 1980 en 1998 is die kanse goed dat jy deur Piet du Toit se hande was.  En is jy dalk dan ook nog van die min mense in Heidelberg wat by stopstrate stop, want SPEKNEK soos Oom Piet bekend gestaan het was ʼn harde koejawel.

In die eerste van besoeke aan die mense wat Heidelberg help maak het, het Die SuikerbosRant by Oom Piet gaan kuier.

Gebore 10 September 1933 in die Klein-Karoo en te wel in die Dorp Ladismith, het oom Piet hier ook standerd 8 gemaak.

Na skool het hy by die Spoorweg Polisie begin werk as ʼn Konstabel by die Tafelbaai se dokke.  Jy moet onthou in daardie jare was ‘n Spoorweg Polisieman ‘n belangrike man in die gemeenskap, meen Oom Piet.  Hy was aan diens by die hek waar besoekers kon kom kyk as daar belangrike skepe gedok het.  Die trane loop soos hy lag as hy onthou hoe hulle drukspykers in die pad gegooi het toe die Engelse kom kyk het na die RMS Caronia, ‘n groot miljoenêrs skip wat in 1948 kom dok het.

Oom Piet du Toit is op 28 Junie 1958 getroud met Anette Jooste van Sutherland se wêreld.

In 1963 het Oom Piet en ‘n vriend van hom, Mike Pieters by die Verkeerspolisie in Goodwood Kaapstad aangesluit.  Hier het oom Piet vinnig uitgestyg en was toe reeds verantwoordelik vir die uitreik van bestuurslisensies.

Nadat hy ook ‘n draai in die Oos-Kaap gemaak kom Oom Piet “Speknek” du Toit in 1979 in Heidelberg aan en begin werk by die verkeersafdeling van die Heidelberg Munisipaliteit.  Sy bynaam kom van sy mede rugbyspelers af.  In Oom Piet se dae was hy ʼn fris kêrel met breë skouers.

Hy het begin as Assistent Verkeershoof en het saam oorlede Piet van Deventer gewerk, waar ‘n deel van sy werk die uitreik van bestuurslisensies was.

Piet en Annet (Jooste) Du Toit op hulle troudag 28 Junie 1958

Piet en Annet (Jooste) Du Toit op hulle troudag 28 Junie 1958Oom Piet onthou hoe hy en Piet van Deventer een oggend ‘n man op ‘n motorfiets gejaag het wat hulle vermoed het nie ‘n lisensie het nie.  Die Datsun bakkie waarmee hulle die motorfiets gejaag het was baie oud.  Oom Piet meen toe aan Piet van Deventer dat hy stadiger moet ry want die Bakkie kan dalk breek van die gejaag.  So reken Van Deventer dat hulle nog net ‘n klein entjie gaan jaag want die motorfiets gaan nou val, en daar val die man toe wragtag.  Hulle arresteer die man vir bestuur sonder ‘n lisensie, vol rowe en bloed.

Verder onthou om Piet ook toe hy en Connie van Dyk met die ambulans na die ou Nigel myn moes jaag vir ‘n vrou wat besig was om geboorte te gee.  Daar aangekom was die vrou al ver met die geboorte en die vroedvrou wat haar moes help, baie dronk.  Hulle het die vroedvrou eenkant toe gestoot en hy en Connie van Dyk het die tweeling dogtertjies in die wêreld gebring.  Hulle noem toe die twee dogtertjies CONNELIA en PIETRONELLA .  Met naelstringe mooi geknip en afgebind het Suster Muller by die Hospitaal gereken dat ‘n dokter dit nie beter sou kon doen nie.

Toe vra ek Oom Piet om my te vertel van die klap!  Hy skaterlag en vertel toe hoe hy eendag by die Laerskool voetoorgang met skoolpatrollie vir Tant Mary Krugel gewys het dat sy haar sitplekgordel moet aansit.  Sy het haar motor summier gestop, uitgeklim en sy hoed van sy kop afgeklap en met die woorde “jy wys nie jou vuil vinger vir my nie” teruggeklim en verder gery. Die twee het later vrede gemaak en Tant Mary was toe daarvandaan sy ambassadeur.  Sou iemand sleg praat van hom het sy hul gou op die plek gesit, en soos ek verneem kon sy dit goed doen.

Oom Piet sê een van sy hoogtepunte in Heidelberg was toe dit in 1981 op sy verjaarsdag die 10de September begin sneeu het. Mense het spontaan in die strate begin sneeuballe gooi, hy en sy kollegas ingesluit. 

Oom Piet het op 30 September 1998 na byna 20 jaar se diens aan die Heidelberg gemeenskap, afgetree. Sy wederhelf, Tannie Anette, is in 2001 oorlede.

Hy bly nou by sy dogter in Rensburg en het onlangs ‘n heupvervanging gehad. Oom Piet SPEKNEK du Toit, Die SuikerbosRant salueer jou en wens jou sterkte toe met die gesondheid.