Die effek van beurtkrag op ons daaglikse samelewing is reeds hol gery. Tot in 2008 was beurtkrag nie eens ʼn konsep of ʼn erkende woord nie. Nou 13 jaar later is dit ʼn bekende term met tot sy eie selfoontoepassings.

Die woord bring ʼn siddering, veral nou in die winter, na enige besigheidman en inwoner. Dis veral die onsekerheid van skedules wat beplanning moeilik maak. Elektrisiteit was vir lank ʼn gegewe deel van ons daaglikse take en huishoudings en is dit daarom dat die gedagte daarsonder, ons verdwaal los.

Load-shedding stage 2 is back- starting tonight - Mpumalanga News

Die vraag moet dus gevra word, hoeveel reserwekrag het ons in die sisteem, as een sentrale se nalatigheid so ʼn skielike tekort veroorsaak? In die verlede was kragsentrales vir maande uit die netwerk gehaal om onderhoud en herstelwerk te doen sonder enige gevolge. Ja, meneer die skrywer, daar kan geredeneer word, dat daar baie minder gebruikers was en die sisteem was vatbaar bestuur. Dit mag so wees maar die ekonomie het so gekrimp dat die aanvraag na krag heelwat minder is maar die verbruik steeds hoog. Die woord “bestuur” kom weer in spel, of liewer die gebrek daaraan. Munisipaliteite skuld miljarde rande, die berugte Gupta-familie dalk nog meer maar die groot achilleshiel van die stelsel is die onwettige gebruik van krag, met onwettige konneksies wat die verskaffer daagliks miljarde rande kos.

Groot nywerhede het reeds lank terug begin om van die Eskom-netwerk ontslae te raak en self-genererend te word. Dit het ʼn bydrae gelewer tot die betroubaarheid van produksie maar ook teen ʼn koste wat uiteindelik deur die verbruiker betaal moes word. Die verbruiker, of liewer die wettige verbruiker, is die een wat vir die gelag betaal en as jy kyk na die besondere hoe bonusse wat betaal word aan Eskom-diknekke, dan is dit ʼn lekker gelag voorwaar.

Dr Willem Sprong, ʼn elektriese ingenieur verbonde aan die Spoorweë, waarsku verder dat die las wat beurtkrag op die munisipale infrastruktuur veroorsaak, ʼn groot gevaar inhou. Sy mening is dat die transformators wat die netwerk diens in woongebiede, nie gebou was om die skielike lading en ontlading wat beurtkrag te weeg bring, te hanteer nie. Verder is die sisteem oud en nie goed onderhou nie.  Die vog wat in die transformators as gevolg van die skielike wisseling in ladings opbou, veroorsaak dat die integriteit van staalwande verswak en dit kan katastrofies wees met ontploffings en brande.

Heidelberg het reeds ʼn paar brande by substasies beleef. ‘n Onlangse voorbeeld was in Hospitaalstraat en in Viljoenstraat waar inwoners weke sonder krag moes oorleef, terwyl die munisipaliteit vir ʼn transformator moes skarrel.

Die antwoord is nie maklik nie, en beslis ook nie goedkoop nie. Selfvoorsiening is duur en die nuwe tegnologie het ook sy unieke uitdagings. Totdat daar nie ʼn wilsbesluit van die regering se kant af kom om sy stoep te vee nie, bly ons aan die genade van ʼn selfoontoepassing oorgelaat, wat ons darem al waarsku as die krag gaan faal.

Die SuikerbosRant Blitznuus

Die SuikerbosRant Blitznuus: ‘n Ernstige probleem by die Heidelberg-opgaardamme het veroorsaak dat gedeeltes van die dorp weereens sonder water sit. ʼn Video wat deur Gerry Holtzhausen, DA-raadslid, reeds Saterdag aan Lesedi getuur is, wys dat daar strome water uit een van die opgaardamme vloei. Kloof-sekuriteit bevestig egter dat die water reeds sedert Vrydag vloei. Dus kan ons seker wees dat die opgaardamme nou leeg is. Volgens raadslid Holtzhausen is die water reeds deur die meter in Bergsig en gaan Lesedi daarvoor aanspreeklik gehou word deur Randwater.
Dit is maar net die begin van ʼn potensiële droë tydperk vir Heidelberg. Randwater beplan weer herstelwerk vir die naweek wat kom en uit ondervinding weet ons dat dit gewoonlik nie goed verloop nie.
Sien die video wat vanoggend deur Die SuikerbosRant saamgestel is.

ons Heidelberg

Van ‘n plaasopstal na een van Heidelberg se bekendste bakens….

Ons loer in by Melinda & Christo van der Merwe, eienaars van Diamante & Goud Plaashuiswinkel.  Hier word ons hartlik verwelkom deur als wat Heidelberg jou bied, opgevang in een: hartlikheid, vriendelikheid, passie, liefde vir mense en die warmte van lewe op die platteland.

Die eienaars, Christo en Melinda is in 1978 getroud en het saam ‘n nuwe lewe in Heidelberg begin.  Hul het die gebou 43 jaar terug gekoop as ‘n plaasopstal en van niks omskep in een van Heidelberg se bekendste bakens. Hier is albei steeds voltyds bedrywig.  Christo het al die bouwerk met hulp gedoen en die meubels gemaak in die landelike styl waarvoor hulle albei baie lief is.Christo is ‘ n diamantslyper en saam het hy en Melinda die juweliersake wat juweliersware van die hoogste gehalte vervaardig, begin.  Melinda se droom was om ‘n unieke juwelierswinkel te hê waar mense bymekaar kan kom, gesellig wees en tuis voel.  En, vandaar het die Diamante & Goud Plaashuiswinkel ontstaan.

Geniet heerlike tuisgebak en vars geroosterde koffie onder die prieël of voor die kaggel in die winter.  Kies uit van die vele geregte op hul spyskaart soos gGebakte kaaskoek, skons, Portugese sjokoladekoek, muffins, wortelkoek, waenhuiskoek, pekanneuttert, warm tuisgemaakte vleispasteie, Italiaanse lasagne of ‘n heerlike boereslaai.  Dit is moeilik om te kies – als klink heilsaam en heerlik.  Ek en Leentjie besluit dat op hierdie pragtige herfsdag, is die gesogte groentesop bedien met ‘n sny heerlik varsgebakte ciabata broodjie met egte plaasbotter; die vanselfsprekende keuse.  Wat ‘ n lafenis was dit nie?!  Maar oooeee, ons smaakkliere roep na die heilsame gebak.  Die vriendelike kelner bedien ons met die heerlikste sny wortelkoek… hemels!  ‘n ballet-pallet!  Ons stap deur die winkel waar jy omring word deur ‘ n verskeidenheid nostalgiese geskenke, vir die soettand is daar heerlike nostalgiese lekkergoed soos oudtydse belt liqourice, “niekerballs”, appelkosies, nougat, fondant, turkse lekkers en nog baie meer.  Keurig gebottelde konfyt en heuning is ook beskikbaar.  Die juweelfabriek word ook hier tentoon gestel waar Christo en 2 voltydse goudsmede eksklusiewe juweliersware vervaardig.  Christo was baie jare ‘n diamantslyper en doen steeds daagliks diamantgraderings vir kliënte.  Hier is ‘ n juweelontwerper asook ‘n dame wat stringwerk doen terwyl jy  jou beker boeretroos geniet.

Ons loer ook in by die Kothuiswinkel waar ‘ n groot verskeidenheid spesiaal vervaardigde kothuismeubels met ‘n oudtydse voorkoms, uitgestal en verkoop word.  Elk met liefde deur Christo vervaardig.  Hierdie man se hande staan vir niks verkeerd nie.

Die begaafde, tog beskeie egpaar, bedryf ook sedert Desember 1994, die beroemde Nagmark.  Hierheen word besoekers van heinde en verre gelok.  Daar is ongeveer 60 uitstallers en 1500 besoekers.  Lekker boerekos, hemelse tuisgebak en vars geroosterde koffie word ook op die mark bedien.

Melinda word geinspireer deur mense.  Sy is lief vir mense, haar gemeenskap en in besonder haar Skepper.  Tussen die heerlike kuier en gesels met Melinda, kan ons getuig dat sy dit absoluut na buite straal.

Gaan loer gerus in.  Die personneel se diens is hartlik en vriendelik en die omgewing laat enige sweempie van stres verdamp.  Hier is elkeen welkom. “Gratifying” is die Engelse woord wat ons besoek so mooi opsom.  Ek en Leentjie besef opnuut hoe geseënd ons is om deel van die gemeenskap van Heidelberg te kan wees.

Diamante & Goud Plaashuiswinkel                                                                                      

Begemanstraat 40

Heidelberg                                                                                                                         016 341 5578

The Heidelberg Great Train Race

24 September 2021

Van Zyl Schultz

Die Heidelberg Great Train Race (HGTR) 2021 gaan iets besonders wees.  Soos in die vorige twee jaar se HGTR word Heidelberg weer binnegevaar deur veteraanmotors en -vliegtuie.  Die groot verskil in 2021 gaan die deelname van ROVOS RAIL wees.  Die bekende luukse treinoperateur bring twee stoomlokomotiewe met 16 luukse waens vol besoekers na vanjaar se geleentheid.  Die skouspel beloof om iets besonders te wees.

Die SuikerbosRant wat die prag-geleentheid in Heidelberg reël, is reeds in gevorderde gesprekke met borge om die 2021-skouspel op nasionale vlak te adverteer.  PROTEK SA wat van die eerste HGTR aan boord was, as hoofborg, het reeds hul 2021 deelname bevestig.

Daar gaan ʼn toeskouersarea by die spoorwegstasie in Stasiestraat geskep word. Hier gaan besoekers die geleentheid kry om al die deelnemers in hul veteraanmotors te sien verbybeweeg, asook die vliegtuie in die lug en die stoomtreine op die spoor.  Die drie elemente bymekaar maak die HGTR baie uniek en eg Heidelberg.  Stalletjies en ʼn biertuin by die stasie is ook deel van die beplanning.     

Die Suikerbosrant kan ook bevestig dat een van die duursaamste veteraanspogmotors, naamlik ʼn Ferarri Dino, ook reeds deelname bevestig het. Die oudste motor wat deelneem is ʼn 1915 Pattrson en dan is daar ook ʼn baie skaars en waardevolle 1930 Bentley.  Meeste van Suid-Afrika se veteraanvliegtuie is vanjaar 80 jaar oud en sovêr het daar reeds 16 vliegtuie hul deelname bevestig.

24 September 2021 gaan Heidelberg dreun en die klank van eertydse motor, vlieg en stoom gaan die lug met ʼn skouspel van nostalgie vul.

Die SuikerbosRant het 1 Junie 3 jaar oud geword en die winde van verandering waai ook deur die populêre publikasie se gange.

Voortaan gaan Die SuikerbosRant beskikbaar wees as ʼn webjoernaal met aktuele en nuusbydraes uit ons omgewing. Daar sal dus nie meer ʼn twee-weeklikse uitgawe wees nie maar wel daaglikse brokkies nuus en interessanthede.

Die SuikerbosRant bly steeds jou lekkerlees-positiewe-storieplatform, maar skroom vír seker nie om tekortkominge wat dienslewering en ander dergelike dinge insluit, aan te spreek nie.

Volg ons op Facebook vir inligting oor stories wat geplaas is.

DIE BLANKE KONSENTRASIEKAMP OP HEIDELBERG, TRANSVAAL

Gerhard Kamffer en Willie Pretorius

Talle burgers het na eedaflegging, bevrees vir wraakneming van die vegtende burgers, na die dorpe gestroom waar “refugee camps” ontstaan het. Hieruit het die stelsel van konsentrasiekampe, uiteindelik ook op Heidelberg, ontwikkel. Drie tipes vrywilligers was hier woonagtig, naamlik “die goeies”, die onverskilliges wat oorlogsmoeg was en derdens die soekers na avontuur. Die wegvoering van vroue en kinders vanaf die verwoeste plase, sedert Oktober 1900, na hierdie vlugtelingkampe het tot die ontstaan van `n vierde groep, bekend as die patriotte of “undesirables”, gelei. Ten spyte van aanvanklike spanning het daar mettertyd tog goeie samewerking tussen die groepe gevolg. Die Britse owerheid sou tot die einde van November 1902 na die fisiese en geestelike welsyn van die kampinwoners op die plaas Klippoortje, tans die eiendom van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, omsien. Die kampterrein was nooit omhein nie.

Die kamp in Heidelberg – Bron: Nasionale Argief

Goeie leierskap en geringe wisseling van bekwame personeel onder leiding van superintendent AA Allison het die leisels stewig vasgevat. Die maandelikse gemiddelde sterftesyfer uit die maandelikse gemiddelde inwonertal in elke Transvaalse kamp dui aan dat die kamp op Nylstroom (Modimolle) met `n sterftesyfer van 2,9% die hoogste was. Daarenteen het Heidelberg met `n lae sterftesyfer van 1,37% die twaalfde posisie beklee. Mediese dienste onder bekwame medici het `n integrale deel van die kamplewe uitgemaak. Suster French wat met verpleging in die kamphospitaal behulpsaam was, is in Januarie 1902 as kampmatrone aangestel waar sy uitstekende werk verrig het. Aangename weersomstandighede en `n gesonde klimaat op die Transvaalse Hoёveld was vir welstand van die kampbewoners bevorderlik.

Akkommodasie het benewens ronde en markeetente ook uit sooihuise bestaan. Dit was lang geboue met 82 kamers van 3,64m x 3,03m elk wat aan ongeveer vyf persone huisvesting gebied het. Ten spyte van klagtes oor die klammigheid binne die sooihuise, het die inwoners dit bo die ronde tente verkies.

            Effektiewe gesondheidsdienste, aanvanklik primitief, het die kampowerhede verplig om sanitêre maatreёls op `n vaste grondslag te plaas. Geen verslapping van enige sanitêre maatreёls is geduld nie. Mediese dienste het die verskille tussen die Boere se gesondheidspraktyke en dié van Britte blootgelê. Die gebruik van Boererate tydens die maselepidemie van 1901 het die Britse medici streng afgekeur. Tog het die gebruik van Boererate daartoe bygedra om die epidemie te bestry. In die Heidelbergkamp het 224 kinders in die tydperk Aug. 1901 – Sept. 1901 aan masels en aanverwante siektes soos bronchitis gesterf. Heidelbergkamp met 347 sterftes het tussen April 1901 en Maart 1902 die 13de posisie in Transvaal beklee.

Kampsuperintendent AA Allison het tot met die sluiting van die Heidelbergse konsentrasiekamp aan die hoof gestaan. Na die oorlog het hy hom op die plaas Tegwan’s Nest gevestig. Greylingstad se inwoners het hom tot sy dood in 1946 gerespekteer. Dit was veral sy menslikheid teenoor en goeie verhouding met die kampinwoners wat `n meer ontspanne bestuurstyl tot gevolg gehad het. Daarom kan in `n mate verklaar waarom dié konsentrasiekamp as `n “goeie” kamp gereken kan word.

Koevert gepos vanaf Heidelberg op 17 Junie 1901 na ‘n krygsgevangene in Ceylon. Inhoud van die koevert gesensor deur E.R. Harvey soos die inskripsie in die stempel “Burgher Camp Heidelberg” aandui. Die Britte het a die kosentrasiekampe as “Refugee camps” of “Burgher camps” verwys (Kamffer-versameling).
Stempel op die agterkant van ‘n koevert van die firma “Poynton Bros” wat die kontrak gekry het om eetware, klere en ander goedere aan krygsgevangenes te verkoop (Kamffer-versameling).