Merweville – Knellende Droogte

Dit is in tye van nood wanneer die Suid-Afrikaner na vore tree.  Wanneer daar ʼn pleidooi om hulp uitbasuin word, is dit ʼn kwessie van minute totdat die eerste samaritane reageer.  Daar is heelwat  voorbeelde hiervan in die laaste tye.  Die langdurige droogte in die Karoo en Noord-Kaap , die verwoestende veldbrande in die Boshof- en Hertzogville-distrikte in Augustus 2020 en nou ook met die onlangse plundery in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng.

Deur politieke en kulturele grense bars die mooi gesindheid van Suid-Afrikaners om mekaar te help. Dit is die mooi van die diverse nasie aan die suidpunt van Afrika.  Die noodlot hou nie op nie maar so ook nie die samaritaan-gees nie.

Daar is dele van ons land wat alreeds vir 8 jaar ʼn knellende droogte ondergaan.  Alhoewel daar verskeie droogtehulp-organisasies regoor ons land betrokke is, bly dit ʼn gróót uitdaging om vir 8 jaar lank met beperkte hulpbronne, hulp te voorsien.

Die gemeenskap van Merweville in die hartjie van die Groot-Karoo het bykans 10 jaar laas reën gesien.  Dié gedeelte van ons land en sy mense kry baie swaar.  Die veld is droog en dor.  Die diere is maer en die mense van Merweville is moedeloos maar tog bly glo hulle, dat die reën sal kom.  Daar was hulp wat aan die gemeenskap verskaf was maar omdat dit so ʼn lang droogte is, het hulpbronne onder geweldige druk min geraak.

Die gemiddelde boer in Merweville het bitter min vee oor en dit kos rondom R250 per dier per maand om aan die gang te bly.  

Dit was laat in April 2021 toe Annetjie du Toit van Goeiehoek-kontreimark buite Heidelberg op die Vereeniging-pad besluit het om die Suikerbos-distrik Boere-unie te nader om sodoende hulp aan die mense van Merweville te stuur.  Die inisiatief het sedertdien so geroei dat die Bloekomspruit-boerevereniging en die Vaal-Driehoek ook betrokke geraak het en gesamentlik het die organisasies reeds vragte voer en goedere na die droogtegeteisterde gebied gestuur.  Daar is sowat 55 gesinne wat tans hulp ontvang.  Die gemiddelde boer in Merweville het bitter min vee oor en dit kos rondom R250 per dier per maand om aan die gang te bly.  

Hennie Alberts van Karoo Droogtehulp en organiseerder in Merweville beaam die noodtoestand en die verligting wat die hulp uit Heidelberg se omgewing bring.  Die nederige dankbaarheid van die mense van Merweville is ook baie duidelik hoorbaar uit verskeie stemboodskappe wat Die SuikerbosRant ontvang het.

Daar is dus besluit om die gemeenskap van Merweville te bly ondersteun vir solank moontlik.  Faan Botha, die voorsitter van die Bloekomspruit-boerevereniging onderskraag die 3 organisasies se absolute toewyding om voort te gaan met hulp in die vorm van voer en kruideniersware, totdat die situasie in die Karoo verbeter en tot die veld en omgewing weer herstel.  Hy beaam verder ook die mooi gesindheid waarmee Heidelbergers en boere van die omgewing en die gemeenskap van die Vaal-Driehoek tot dusver betrokke geraak het met skenkings wat reeds gestuur is.  

 

Wat baie nodig is, is die basiese kruideniers- en skoonmaakware

‘n Volgende konvooi na die Karoo word beplan op 1 September 2021 en Die SuikerbosRant moedig lesers aan om betrokke te raak.  Jy kan ʼn boks pak met ʼn mooi brief ter onderskraging aan ʼn familie in Merweville of jy kan ʼn kontantbydrae aan Die Suikerbos-distrik Boere-unie maak, waarmee daar voer en bykosse gekoop sal word.

Wat baie nodig is, is die basiese kruideniers- en skoonmaakware, materiaal vir klere en ʼn bederfdingetjie vir die moeder van ʼn gesin.  Pak ʼn boks met deernis of bring bloot dit wat jy wil skenk in sakke.  Hierdie skenkings bring ʼn tasbare verligting aan die mense van Merweville wat nou al vir jare gebukkend gaan onder die droogte van dekades.  

Jy kan jou boks en skenkings weeksdae by Bosbokstraat 28 in Jordaanpark aflewer.  Dit sal weekliks by die adres opgetel word, waar dit dan na die versamelpunt by Bloekomspruit geneem sal word. “Ons hoop regtig dat ons ʼn berg van goedere op Lentedag 2021 Merweville toe kan stuur” is die gesamentlike wens van Faan Botha en Barend Keet.  Barend is die voorsitter van die Suikerbos-distrik Boere-unie. 

Sou jy eerder ʼn kontantbydrae wou maak, kan jy dit in die Suikerbos-distrik Boere-unie se rekening inbetaal: Standardbank, Alberton, takkode 012342, rekeningnommer 252019229.  Gebruik asb “Droogtehulp” as verwysing.   

Die hulpbehoewende mense van Merweville gaan nog tot die eerste goeie reën geval het en die veld daarna herstel het, afhanklik wees van bystand.  Daarom is dit die wens van die huidige samaritane dat ons hele gemeenskap by hiérdie projek betrokke sal raak, sodat die kraan uit Heidelberg en Die Vaal-Driehoek nooit droog sal loop vir die nood in die Karoo nie.