Ministers se besoek verklaar N3 weer veilig.

Van Zyl Schultz

Die afgelope week se gebeure het die kwesbaarheid van voedselsekuriteit in Suid-Afrika uitgelig.  Derduisende opgestookte skares het op die besigheidsektor van Durban en Johannesburg toegesak.  Wat oënskynlik eers die gevolg van Zuma se tronkstraf was, het in ʼn warboel van plunder en beskadiging van eiendom verander.  Dit het vinnig soos ʼn veldbrand versprei en gebiede hoofsaaklik langs die N3-snelweg tussen die twee stede, het in die slag gebly.  Groot dele van KwaZulu-Natal is lamgelê.   

Miljarde rande se skade is aangerig en dit gaan Suid-Afrika se ekonomie swaar tref.  Sekere kettinggroepe het reeds aangedui dat daar sterk oorweeg word om sekere winkels nie weer oop te maak nie.

Lang rye mense voor die ingange van winkels, veral in KwaZulu-Natal, wat die verwoesting vrygespring het, het op sosiale media begin verskyn.  Dit het vinnig aan die lig gekom dat daar ‘n groot tekort aan basiese voedsel soos meel en brood gaan ontstaan.

Oproepe van familie en geliefdes uit die streek na die res van Suid-Afrika het die nood bevestig.  Vliegtuie en  privaat vragmotors is ingespan om verligting te bring maar dit sou slegs tydelik en heeltemal te min wees.  Die heropening van die N3-snelweg moes eenvoudig hoë prioriteit kry. Die N3 is die hoofaar van goedere na en van die rampgebiede.

Op Mandeladag, 18 Julie 2021, het 4 ministers van die nasionale regering die verkeerskontrolepunt op die N3 net buite Heidelberg besoek.  Terwyl vragmotors van 3 groot kettingwinkels gestaan en wag het, is onderhoude met verskeie mediahuise gevoer, om die belangrikheid van die N3 te beklemtoon.  Die Minister van Handel en Nywerheid Ebrahim Patel, het die belangrikheid van veilige roetes vir gesonde handel in tussen Suid-Afrika benadruk.

Ministers Ebrahim Patel en Pravin Gordhan saam met die vragmotorsbestuurders en die bestuur van SPAR – die groenlig gegee vir n veilige N3

Die skade wat aangerig was, is groot maar die moraal en durf van alle Suid-Afrikaners sal seëvier, het Patel gesê. Spar-direkteur, Desmond Borrageiro wat ook die geleentheid bygewoon het, het bevestig dat Spar al sy winkels wat beskadig was, weer gaan open.  Die positiewe gesindheid van Suid-Afrikaners in die uitdagende tyd, vuur ons aan om spoedig weer normaal te handel, het hy gesê.

Terwyl al die onderhoude plaasgevind het, het ʼn weermagkonvooi op die N3 verbybeweeg op pad van Durban,  om seker te maak dat die goedere die kruideniersrakke in die rampgebiede bereik.

Driver Tshepo Sathekge from SPAR on his way to Durban

Die veiligheid van vragmotors op die hoofweg is ook bespreek en het minister Pravin Gordhan saam met Brigadier Mahlabane van SAPD se taakspan aan vragmotorbestuurders en operateurs die versekering gegee dat die N3 nou ʼn hoë prioriteit is en sal bly.  Op ʼn vraag van die mede-eienaar van Logico Logistics Group oor die Mooirivier Tolplaza wat steeds ʼn groot probleem bly, het beide die Minister en Brigadier aan Clint Brooks van Logico die versekering gegee dat daar gekyk word na ʼn alternatiewe oplossing, sodat vragmotors by die betaalpunt hoef te stop nie.  Logico is een van Unilever se sleutel vervoermaatskappye.

Minister Pravin Gordhan en Brigadier Mahlabane gee eienaars en bestuurders van vragmoters die versekering dat die N3 nou veilig is.

Daar word landswyd begin met opruimingswerk by baie van die beskadigde sentrums en besighede en dis hier waar mooi gees van Suid-Afrikaners die walglike tonele van plunderaars, sal uitwis. As die plan was om Suid-Afrika te verdeel met die afgelope week se wanorde, het die meesterplan erg misluk.

Die SuikerbosRant salueer elke lid van die samelewing vir elke bydrae om van ons almal wenners te maak.