Hoop uit die ashoop

Met afgryse en absolute verwyt staar Suid-Afrikaners na televisieskerms. Dit voel soos ʼn riller filmvertoning en dit hou nie op nie. Dat soveel mense met dieselfde “we are hungry” lisensie plunder, is ongelooflik. En nie net plunder nie maar ook soos ʼn vernietigende storm deur ʼn omgewing beweeg. Die warboel storm voort met groot oë en angstige tree. Die vergryp is verbysterend, die skade ontelbaar en die effek op die omgewing en sy mense gekap in klip.
Wat oënskynlik begin het as ʼn verset, het baie vinnig verander in ʼn orgie van vergrype en vuur. Dit versprei soos ʼn veldbrand al langs die N3 van Durban tot in Johannesburg. Met die sluiting van die N3 en vragmotors wat skuiling soek, is voedselsekerheid ʼn akute onsekerheid. Die vernietigende mag aangedryf deur hebsug en opstokers het nie die vermoë om die omvang van hul dade te besef nie. Die afbreek van nog ʼn winkel se deure en diefwering met ‘n moontlike fonds is nou eers prioriteit. Wat oormôre geëet moet word, is nie nou belangrik nie.
Daar is egter tog ʼn gesindheid van hoop wat uit die as en vermorsing opstaan. ʼn Gevoel van samesyn soos laas in 1995 met die Rugby Wêreldbeker-finaal op Ellispark. Gemeenskappe oor ras en etniese grense wat saamstaan teen die dreigende gevaar. ʼn Magtige dreuning soos in die ou vlaglied beskryf, waar boer en Brit saam met taxi-operateurs in ʼn winkelsentrum se parkeerterrein uitkamp om seker te maak dat plunderaars nie toeslaan nie. ʼn Paar maande gelede het dieselfde gebaar sy opwagting gemaak in Ficksburg, waar boere saam met taxi-operateurs begin het om saam te protesteer teen die swak toestande van paaie in die Oos-Vrystaat.

Lede van Heidelberg GPF saam met Afriforum staan wag by U-Save in Rensburg

Gisteraand 13 Julie 2021 kamp die gemeenskap van Nigel saam by die Angelo Winkelsentrum. Bruin-, wit- en swartmens steek saam vure aan om die koue te beveg en staan saam om hul voedselbron te beskerm. In Eldoradopark speel dieselfde scenario af. Gemeenskappe staan om die sentrum in tientalle om seker te maak dat hul omgewing behoue bly. ʼn Videogreep uit Amanzimtoti wys Suid-Afrikaners van alle kleure wat saamstaan teen ʼn skare plunderaars én hul suksesvol verdryf.

May be an image of one or more people, people sitting, people standing, fire and outdoors
Die gemeenskap van Nigel maak saam vuur vir n lang koue nag

Is dit dan nou uiteindelik Ubuntu? Uit die noodlot van anargie manifesteer die mooi gees van Suid Afrika. Ubuntu wat vertaal kan word as “ek is omdat jy is”, kan ons mooi land van ondergang red. As ons as ʼn minderheid, regoor ras en etnisiteit, kan saamstaan om die Goliat van vernietiging te verdryf, dan is daar tog hoop, hoop wat uit die as en gemors sal verrys omdie werklike nuwe Suid-Afrika vir al sy mense sonder aggressie of verwyt teweeg te bring.