Heidelberg Erfenis

DIE “NATIVE REFUGEE CAMP” OP HEIDELBERG, TRANSVAAL, TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Die Britse verskroeideaardebeleid het tot gevolg dat van die Heidelbergse Boerevroue en hulle kinders, sowel as `n groot aantal swart vroue en kinders wat as arbeiders op die plase gewerk het, sedert 1901 vir die duur van die oorlog in afsonderlike konsentrasiekampe byeengebring is.

Twee inwoners van Heidelberg, mnre. Eric van den Berg en Johann Strauss, het in 1999 die begraafplaas vir die Heidelbergse swart konsentrasiekamp vlak by die Jacobstraatafrit van die N3-hoofweg gevind. Dieselfde twee persone het daarna ongeveer 30 grafte byna in sig van die blanke konsentrasiekamp geïdentifiseer. Al die grafte is egter nie opgespoor nie. Die vermoede bestaan dat van die grafte onder die uitgegraafde grond kan wees wat vir die bou van die N3-hoofweg weg geskraap is.

Agterkant van ‘n poskaart gepos op die 12 Julie 1902 vanaf Heidelberg met die “Native Refugee Camp Heidelberg” stempel. Hierdie is die enigste voorbeeld van die tipe stempel van die Heidelberg-kamp wat nog waargeneem is (Kamffer-versameling).

The Heidelberg News, deeglik bewus van die swart konsentrasiekamp aan die noordoostelike buitewyke van die dorp, het die bestaan daarvan tydens die oorlog geïgnoreer. Daar is wel op 15 November 1901 oor die blanke konsentrasiekamp verslag gelewer. Eers vyf maande na die oorlog het die koerant in sy redaksionele kommentaar aan die bestaan van so `n kamp erkenning gegee.

Beskikbare verslae dui aan dat daar vier swart konsentrasiekampe in Heidelbergdistrik bestaan het, naamlik op Heidelberg, Klippoortje, Greylingstad en The Nigel/Floridakop. Inligting oor elk van die vier kampe is baie beperk. Trouens, slegs oor die Heidelbergse kamp is daar meer gegewens beskikbaar.

Tot met die Britse besetting van Heidelberg in Junie 1900 het daar `n rustigheid onder die swartes in Heidelberg geheers. Ten spyte van `n tekort aan arbeid het die Boerevroue aanhou boer om kos vir die burgers in die veld te produseer. Van `n sametrekking en rondloop van swartes was daar geen sprake nie. Geen hofsake oor veediefstal en rondlopery is in hierdie tyd gehou nie. Die prentjie het egter na die Britse besetting verander.

Koevert gepos vanaf Greylingstad op die 7 April 1902 met die aantekening links onder: “R.A. Swart Supt Native Refugee Camp, Greylingstad”. Posstukke gepos vanaf Native Refugee Camps word baie selde gesien (Kamffer-versameling).

Die Britse distrikskommissaris op Heidelberg, JM Vallentin, het spoedig probleme ondervind met swartes ten opsigte van wetteloosheid, passe, verligting van haglike omstandighede en beskerming van swart gemeenskappe wat vergelding van die Boeremagte gevrees het. Teen Desember 1900 moes `n definitiewe beleid ten opsigte van swart vlugtelinge in die dorpe neergelê word. Vallentin het die geweldige toestroming van swart vlugtelinge na Heidelberg met groot kommer waargeneem.

Waarom het die Britse militêre owerhede tot die stigting van konsentrasiekampe vir swartes oorgegaan? Hieroor verskil die historici. In wese het die Britse militêre strategie die beёindiging van die guerrilla-oorlog behels. Die haglike toestande wat na die verwoesting op die Boereplase geheers het, het die swartes verhinder om `n bestaan te maak. Gevolglik het hulle oor geen ander keuse beskik as om in die swart konsentrasiekampe `n heenkome te vind nie waar daar `n gebrek aan toesig oor die swart kampbewoners was. Op Heidelberg het die kampbevolking hoofsaaklik uit vroue en kinders bestaan terwyl die meeste mans in Johannesburg

Die voormalige hoof van Laerskool Greylingstad, mnr. Hennie van Schalkwyk, saam met een van sy leerlinge by die grafsteen van ‘n inwoner van die “Native Refugee Camp” op Greylingstad. 
 

Bron:

WJ Pretorius, “Die Britse regering en burgerlike bevolking van Heidelberg, Transvaal, gedurende die Anglo-Boereoorlog”, ongepubliseerde D Phil- proefskrif, Universiteit van Pretoria, 2008.ewerk het. Later het die Britse leёr swart vlugtelinge as spioene in diens geneem.