Wen die Winter

Kom ons wees nou maar net eerlik met mekaar, dis nie maklik om gesond te leef in die koue winters maande nie.  Dit raak vroeg donker en laat lig, en dis boonop vrek koud! Hoe gemaak om nou nie al ons gesonde gewoontes van die somers maande te verleer in die winter nie?

Eerstens is dit belangrik om nie siek te raak nie! Want wanneer ons siek is kan ons nie oefen nie en dan is ons nog meer geneig om onsself te vergryp aan trooskos!

Hoe kan ons gesond bly?

  • Drink water – Dit is maklik om in die winter te vergeet om genoeg water te drink.  Onthou jou liggaam het dit steeds nodig om gesond te wees en optimaal te funksioneer!
  • Gereelde oefening – Ons het steeds gereelde oefensessies in die winter nodig om ons liggame sterk en gesond te hou! Aërobiese oefeninge kan ons immuunsisteem versterk en dus ons risiko verlaag om siek te raak.  Oefening laat ons ook goed en positief voel – die winter kan mens maar soms depressief maak!
  • Vitamien C – Alhoewel daar bewyse is dat Vitamien C nie verkoue / griep kan verhoed nie, is daar wel bewyse dat dit die graad van jou simptome sal verminder asook die tydperk wat jy siek is verkort.  Goeie bronne sluit in lemoene, soetrissies (groen en rooi), kiwi, rooikool, brokkoli, tamaties en tamatiesap.
  • Eet gesond – Alhoewel ons geneig is om meer ongesonde kosse te eet in die winter is dit steeds belangrik om genoeg groente en vrugte te eet.  Daar is soveel warm groente geregte dat ons geen verskoning het nie!
  • Was jou hande – Hande is al beskryf as ‘n kieme fabriek!  Ons moet ‘n punt daarvan maak om in die winter (en altyd) ons hande gereeld te was!  Kieme versprei so maklik en ons kan dit verhoed deur ons hele gesin te leer om meer gereeld hande te was.
  • Drink minder alkohol – Hoë alkohol inname verlaag jou immuunsisteem se effektiwiteit en dit dehidreer ook jou liggaam.  Vermy dus die ekstra glasie wyn aangesien dit jou onnodig kwesbaar kan maak vir siekte!
  • Slaap genoeg – Maak ‘n punt daarvan om genoeg ure in die nag te slaap aangesien jou immuunsisteem kwesbaar raak wanneer jou liggaam te min kans kry om te rus!

Verhoogde aptyt in die winter

Jou liggaam is ‘n wonderlike ding!  In reaksie op koue sal jou liggaam fisiologies aanpas.  Eerstens vind daar konstriksie van jou velporieë plaas asook ander oppervlakkige bindweefsel om hitteverlies te verhoed.  Gevolglik word die hitte verskuif weg van die perifere weefsel na die liggaam se kern toe.  Daar vind ‘n toename plaas in jou metaboliese tempo – dit is die hoeveelheid energie wat jou liggaam nodig het om te funksioneer tydens rus.  Dit sluit funksies in soos asemhaling, bloedsirkulasie, temperatuur regulering, selgroei, breinfunksie en kontraksie van spiere.  Omdat hierdie metaboliese tempo toeneem (spesifiek wanneer jy koud kry) verhoog dit die energie wat jou liggaam nodig het om te funksioneer – gevolglik is jou aptyt verhoog. 

Daarom is dit belangrik om warm te bly in die winter!  Trek warm aan en hou aan oefen want dit verhoog jou liggaams temperatuur. 

Geniet die winter!