Die effek van beurtkrag op ons daaglikse samelewing is reeds hol gery. Tot in 2008 was beurtkrag nie eens ʼn konsep of ʼn erkende woord nie. Nou 13 jaar later is dit ʼn bekende term met tot sy eie selfoontoepassings.

Die woord bring ʼn siddering, veral nou in die winter, na enige besigheidman en inwoner. Dis veral die onsekerheid van skedules wat beplanning moeilik maak. Elektrisiteit was vir lank ʼn gegewe deel van ons daaglikse take en huishoudings en is dit daarom dat die gedagte daarsonder, ons verdwaal los.

Load-shedding stage 2 is back- starting tonight - Mpumalanga News

Die vraag moet dus gevra word, hoeveel reserwekrag het ons in die sisteem, as een sentrale se nalatigheid so ʼn skielike tekort veroorsaak? In die verlede was kragsentrales vir maande uit die netwerk gehaal om onderhoud en herstelwerk te doen sonder enige gevolge. Ja, meneer die skrywer, daar kan geredeneer word, dat daar baie minder gebruikers was en die sisteem was vatbaar bestuur. Dit mag so wees maar die ekonomie het so gekrimp dat die aanvraag na krag heelwat minder is maar die verbruik steeds hoog. Die woord “bestuur” kom weer in spel, of liewer die gebrek daaraan. Munisipaliteite skuld miljarde rande, die berugte Gupta-familie dalk nog meer maar die groot achilleshiel van die stelsel is die onwettige gebruik van krag, met onwettige konneksies wat die verskaffer daagliks miljarde rande kos.

Groot nywerhede het reeds lank terug begin om van die Eskom-netwerk ontslae te raak en self-genererend te word. Dit het ʼn bydrae gelewer tot die betroubaarheid van produksie maar ook teen ʼn koste wat uiteindelik deur die verbruiker betaal moes word. Die verbruiker, of liewer die wettige verbruiker, is die een wat vir die gelag betaal en as jy kyk na die besondere hoe bonusse wat betaal word aan Eskom-diknekke, dan is dit ʼn lekker gelag voorwaar.

Dr Willem Sprong, ʼn elektriese ingenieur verbonde aan die Spoorweë, waarsku verder dat die las wat beurtkrag op die munisipale infrastruktuur veroorsaak, ʼn groot gevaar inhou. Sy mening is dat die transformators wat die netwerk diens in woongebiede, nie gebou was om die skielike lading en ontlading wat beurtkrag te weeg bring, te hanteer nie. Verder is die sisteem oud en nie goed onderhou nie.  Die vog wat in die transformators as gevolg van die skielike wisseling in ladings opbou, veroorsaak dat die integriteit van staalwande verswak en dit kan katastrofies wees met ontploffings en brande.

Heidelberg het reeds ʼn paar brande by substasies beleef. ‘n Onlangse voorbeeld was in Hospitaalstraat en in Viljoenstraat waar inwoners weke sonder krag moes oorleef, terwyl die munisipaliteit vir ʼn transformator moes skarrel.

Die antwoord is nie maklik nie, en beslis ook nie goedkoop nie. Selfvoorsiening is duur en die nuwe tegnologie het ook sy unieke uitdagings. Totdat daar nie ʼn wilsbesluit van die regering se kant af kom om sy stoep te vee nie, bly ons aan die genade van ʼn selfoontoepassing oorgelaat, wat ons darem al waarsku as die krag gaan faal.