Die SuikerbosRant het 1 Junie 3 jaar oud geword en die winde van verandering waai ook deur die populêre publikasie se gange.

Voortaan gaan Die SuikerbosRant beskikbaar wees as ʼn webjoernaal met aktuele en nuusbydraes uit ons omgewing. Daar sal dus nie meer ʼn twee-weeklikse uitgawe wees nie maar wel daaglikse brokkies nuus en interessanthede.

Die SuikerbosRant bly steeds jou lekkerlees-positiewe-storieplatform, maar skroom vír seker nie om tekortkominge wat dienslewering en ander dergelike dinge insluit, aan te spreek nie.

Volg ons op Facebook vir inligting oor stories wat geplaas is.

DIE BLANKE KONSENTRASIEKAMP OP HEIDELBERG, TRANSVAAL

Gerhard Kamffer en Willie Pretorius

Talle burgers het na eedaflegging, bevrees vir wraakneming van die vegtende burgers, na die dorpe gestroom waar “refugee camps” ontstaan het. Hieruit het die stelsel van konsentrasiekampe, uiteindelik ook op Heidelberg, ontwikkel. Drie tipes vrywilligers was hier woonagtig, naamlik “die goeies”, die onverskilliges wat oorlogsmoeg was en derdens die soekers na avontuur. Die wegvoering van vroue en kinders vanaf die verwoeste plase, sedert Oktober 1900, na hierdie vlugtelingkampe het tot die ontstaan van `n vierde groep, bekend as die patriotte of “undesirables”, gelei. Ten spyte van aanvanklike spanning het daar mettertyd tog goeie samewerking tussen die groepe gevolg. Die Britse owerheid sou tot die einde van November 1902 na die fisiese en geestelike welsyn van die kampinwoners op die plaas Klippoortje, tans die eiendom van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, omsien. Die kampterrein was nooit omhein nie.

Die kamp in Heidelberg – Bron: Nasionale Argief

Goeie leierskap en geringe wisseling van bekwame personeel onder leiding van superintendent AA Allison het die leisels stewig vasgevat. Die maandelikse gemiddelde sterftesyfer uit die maandelikse gemiddelde inwonertal in elke Transvaalse kamp dui aan dat die kamp op Nylstroom (Modimolle) met `n sterftesyfer van 2,9% die hoogste was. Daarenteen het Heidelberg met `n lae sterftesyfer van 1,37% die twaalfde posisie beklee. Mediese dienste onder bekwame medici het `n integrale deel van die kamplewe uitgemaak. Suster French wat met verpleging in die kamphospitaal behulpsaam was, is in Januarie 1902 as kampmatrone aangestel waar sy uitstekende werk verrig het. Aangename weersomstandighede en `n gesonde klimaat op die Transvaalse Hoёveld was vir welstand van die kampbewoners bevorderlik.

Akkommodasie het benewens ronde en markeetente ook uit sooihuise bestaan. Dit was lang geboue met 82 kamers van 3,64m x 3,03m elk wat aan ongeveer vyf persone huisvesting gebied het. Ten spyte van klagtes oor die klammigheid binne die sooihuise, het die inwoners dit bo die ronde tente verkies.

            Effektiewe gesondheidsdienste, aanvanklik primitief, het die kampowerhede verplig om sanitêre maatreёls op `n vaste grondslag te plaas. Geen verslapping van enige sanitêre maatreёls is geduld nie. Mediese dienste het die verskille tussen die Boere se gesondheidspraktyke en dié van Britte blootgelê. Die gebruik van Boererate tydens die maselepidemie van 1901 het die Britse medici streng afgekeur. Tog het die gebruik van Boererate daartoe bygedra om die epidemie te bestry. In die Heidelbergkamp het 224 kinders in die tydperk Aug. 1901 – Sept. 1901 aan masels en aanverwante siektes soos bronchitis gesterf. Heidelbergkamp met 347 sterftes het tussen April 1901 en Maart 1902 die 13de posisie in Transvaal beklee.

Kampsuperintendent AA Allison het tot met die sluiting van die Heidelbergse konsentrasiekamp aan die hoof gestaan. Na die oorlog het hy hom op die plaas Tegwan’s Nest gevestig. Greylingstad se inwoners het hom tot sy dood in 1946 gerespekteer. Dit was veral sy menslikheid teenoor en goeie verhouding met die kampinwoners wat `n meer ontspanne bestuurstyl tot gevolg gehad het. Daarom kan in `n mate verklaar waarom dié konsentrasiekamp as `n “goeie” kamp gereken kan word.

Koevert gepos vanaf Heidelberg op 17 Junie 1901 na ‘n krygsgevangene in Ceylon. Inhoud van die koevert gesensor deur E.R. Harvey soos die inskripsie in die stempel “Burgher Camp Heidelberg” aandui. Die Britte het a die kosentrasiekampe as “Refugee camps” of “Burgher camps” verwys (Kamffer-versameling).
Stempel op die agterkant van ‘n koevert van die firma “Poynton Bros” wat die kontrak gekry het om eetware, klere en ander goedere aan krygsgevangenes te verkoop (Kamffer-versameling).